Verhale

’N KRAP EN ’N VIS

“Kyk net hoe pragtig lyk die see,” sê hy en sit my neer op die sand. Ek voel hoe my broek nat word; koue soutwater wat my broek en luier binnedring.

“Bly weg van die water,” waarsku Pa, “dit is gevaarlik. Eendag sal Pa jou leer om te swem en hoe om deur die branders te duik. Intussen sit jy net stil. Ek kan sommer sien jy gaan ’n goeie visserman wees. ’n Man wat weet hoe om ’n visstok met grasie te hanteer. Wat sê jy, grootman?”

“Bla woe weee ig, hu,” antwoord ek terug. Wat anders kon ek sê?

“Toe, speel ’n bietjie. Net nou moet ons huis toe.” Pa swaai sy visstok; die katrol sing ’n vissermansliedjie. Die aas, sinker en hoek tref die verste brander met ’n plons.

Ek lag. Waar is my graaf en emmer?

Net hier langs my kruip ’n diertjie uit. Dit krap die seesand los en steek sy pootjies versigtig uit na my. EK noem hom ’n krappie, want hy krap-krap aan my broekspyp. Ek begin benoud word. Wat maak ek as krappie besluit om binne my luier te klim? Gelukkig skrik krappie vir ’n seemeeu en ek slaag ’n sug van verligting.

“En daai sug?” vra Pa en mompel verder oor ’n kabeljou wat nie aan sy aas wil byt nie. “Moenie die krappie seermaak nie, hoor?”

Het hy oë langs sy kop?

Hier langs my lê sy groot voetspore in die sand; ’n reus s’n, diep getrap. Eendag wanneer my voete só  groot is, wil ek ook diep spore trap soos Pa. Eers sal ek net in sy spore loop, want Pa weet waarheen hy gaan en sal nooit verdwaal nie. Ek sal doen soos hý maak. Hy versorg vir my en Ma asof ons ’n kosbare krappie is. Niks mag ons seermaak nie.

Eendag gaan ek hom see toe bring. Hy sal dan baie oud wees soos oupa. Pa sal eerder op ’n stoel sit waar die sand droog is, want … want ek weet nog nie of hy ’n luier sal dra nie. Dra oupa een?

“Hier kom hy, seun, hier kom hy!” skree Pa skielik langs my en draai die katrol vinnig. Die visstok buig soos ’n boog en ek hoor hoe spartel ’n vis deur die branders.

“Wir woeee pama, muu,” sê ek en probeer my hande klap. Ek kry dit nog nie reg nie.

Daar lê die vis op die strand en wip-wip sy stert. Die kuwe gaan oop en toe, sy bek hap-hap na niks. Pa haal versigtig die hoek uit sy bek en bekyk vir vis van stert tot kop. Ek hoor ’n seemeeu krys en sy vlerke klap. Vis spartel woes en wil terug see toe kruip.

Moenie die krappie seermaak nie – dit spoel deur my kop soos die klein branders voor my.

“Sien jy die vis, seun?” vra Pa en hou die vis na my uit. “Dit is nou ’n prag vis,” sê hy trots en buk af.

Moenie die vissie seermaak nie.

Stadig en versigtig sit hy die vis terug in die water. Ek lag uitbundig.

“Pa-pa … pa-pa.”

My eerste woorde glip trots by my mond uit. Hy tel my op en druk my styf vas. Ek voel sy trane teen my nek en sy hart wat opgewonde klop teen my. Ons stap weg.

Ek loer oor sy skouer en sien sy groot voetspore wat ons volg.


UITTREKSEL: Rooi Papawers

Sy het nakend uit die badkamer van haar hotelkamer gestap, ’n gladde rug waarteen druppels afgly en die sekelmaan speels teen haar nek glinster.

Nakend, tooiloos, sonder Eva se tontelblaar.

Hy het haar fyn dopgehou deur die oop skuifdeur – onbewus van sy teenwoordigheid; hoe sy haar hare droogvryf met ’n handdoek, haar dun heupe, die spiere van haar rug en die are langs haar slanke nek.

Toe gaan staan sy agter die groot leunstoel, steeds met haar rug na hom – soos altyd – rug na hom.

Drie gedempte skote.

Sy val vorentoe oor die ruglening van die stoel. Haar hare glip elegant na vore, haar arms slap.

Drie koeëlwonde.

Hy glip die kamer binne en sit ’n rooi papawer op elke skietwond op haar rug. Hy tru terug tot op die balkon.

’n Paar sekondes van groustaar is ’n oomblik van vervulling en bevrediging. Haat is drie rooi papawers op ’n kaalrug. Sy daad is ’n regstelling, ’n wraakgierigheid wat hom genot gee. Die goedkeuring daarvan is gewetenloos.

In die spieël teen die oorkantste muur van die hotelkamer, weerkaats hy lewensgroot. ’n Beeld van ’n wraaklustige man met die lig van ’n staanlamp op sy gesig – geel, wrang, wriemelende wrok in sy kop, vrotvel.

Hy tuur vir ’n oomblik na homself; ’n selfvoldane glimlag wat wrede kepe sny om sy mond – tot hy haar dooie donker oë sien wat na hom staar.

Dan seil hy oor die balkon, af met die brandtrap en verdwyn – verorber deur die donker van die nag en terug na sy eie sielige alleenheid.

Die drie papawers huil rooi trane op ’n wit mat.

’n Vinger wat beweeg, ’n kop wat probeer opbeur, ’n lyf wat afglip tot op die vloer.

’n Hand wat klem aan die mat, ’n lyf wat pynlik seil, bene wat krapagtig skop.

Glas wat bars en breek, is sewe jaar se ongeluk. ’n Roepstem om hulp.

Sy glip weg met sy beeld in haar geestesoog met vrae wat eggo teen die holheid binne haar; waarom, hoekom.

Weg – onbewus van lewe of dood, bestaan of nie bestaan. Die lewe se kleur word ’n swart kolk van niks – net ’n hartklop en asemhaal.

©Nico Schamrel

GOUE PÊRELS – kortverhaal

Al die sterre is swartkolk – geblus in die donker – hul helder skyn ingeplof. Woensdag se volmaan dra ’n swartmanel van salpeter, houtskool en swael. Die hemelruim is swartryp windverwaai.

Hoe donker is die nag wanneer net hý met oopoë na alles staar. Kerse dood, lampe en konkavuur geblus.

Stroopsoet, stil is die nag – nie krieke, paddas en toktokkies, nog minder die honde hou wag.

Swartkoppersie, kannabos wat pimpelblom in die skemerdonker. Swartland se berge het al die geel koring en sonneblomme ingesluk.

Laat daar lig wees. En daar was lig.

Vier stokkies, ’n stukkie tou, papier – ’n vlammetjie sal netnou brand.

Vroeër se warmmaak vuur stuur sterre-vonke die lug in; dwarrelend, blink stertjie, glinster viooltjies, goue pêrels.

Azra sê so.

Vir Sy kroon? wonder hy.

As Hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels.

Hy druk sy bruin kaal voete dieper onder die seesand.

Branders slaan onhoorbaar teen koue rotse. Die see lê onder ’n nag-karos.

Wat is ’n wens? Is dit die begeerte om iets te hê, of is ’n wens ’n vervulling waarna jy koester?

Toe word wens die vader van sy gedagte en daar is ’n duisend wit ligte – ver, verder as wat sy oë kan sien.

“Jy moet wakker word,” sê ’n tienerstem.

Hy voel hoe ruk iemand hom liggies aan sy arm en ’n vinger wat streel oor sy neus.

“Môre, Azra!” antwoord hy terug.

“Môre Charlie. Hoe lê jy so half onder die sand begrawe?” Hande vee die sand van sy bene en arms af met vinnige bewegings.

“Het jy koud gekry? Ek’t jou gesê om eerder saam my te loop. Maar nee, jy wou bly. Daar is ’n holte agter daai sandduin en dis uit die koue wind.” Haar sagte hande vlinder weer oor sy bene.

“Ek’s okay, Azra,” sê hy terwyl hy sy hand oor haar kopdoek en serp streel.

“Hoekom dra jy dit elke dag?”

“Die kopdoek?”

Hy knik.

“Ek is Islam.”

“Wat is Islam? Ek dog jy is ’n Coloured soos ek?”

Op daardie oomblik vind Azra haar in ’n verwarring. Dra sy die kopdoek omdat dit iets voorstel of omdat sy gedwing was om dit te doen?

“Ek ís ’n kleurling, maar my geloof is Islam. Dit is anders as joue. Sien, dis wat my pa ons geleer het.”

“Wat is myne dan?” Hy krap rond in die sand op soek na sy boksie vuurhoutjies.

“Dít waarin jy glo, Charlie. Kom, ons moet loop voor ons gejaag word vanaf die beach. Hulle soek ons nie hier nie. Bosslapers, straatkinders, gomsnuiwers, useless jongmense …” Sy trek hom op en hou sy hand vas.

“Hoekom noem hulle ons dit?” vra hy.

“Want hulle ken ons nie. Niemand vra meer vrae nie.”

“Ek ruik fish en chips,” sê hy en snuif in die lug.

Wens.

’n Duisend sterre – ver, verder as sy oë kan sien.

Fish en chips.

Wens.

Al Sy pêrels, fraaie pêrels.

Daar was baie kindergesiggies by die sopkombuis; bruin gesiggies, ogies wat honger rondsoek, hande wat gretig gryp na fish en chips in papier toegedraai.

“Antie, skies, ons het ’n bakkie. Kan ek die papier kry?” vra Charlie, terwyl hy gulsig twee aartappelskyfies in sy mond druk.

Dan voel hy in sy sak en haal sy skatte uit. ’n Boksie vuurhoutjies, ’n plastiese vurk vir Azra, ’n knipmes en ’n wensbeentjie.

“En dit?” vra Azra.

“Dis ’n wensbeentjie van gister se stukkie hoender. Kom ons wens …” hy aarsel, “… nee, ons moet wens sonder dat ék weet wat jý wens anders kom dit nie waar nie.”

Wens, trek, knak.

Hulle lag.

“Wie wen?” vra Azra.

“Die een met die langste beentjie in sy hand.”

“Dan is dit jy!” sê Azra opgewonde.

Sy jok.

Môre kom almal met bakkies. Charlie sê hy soek hulle papiere. Die antie vra nie hoekom nie. Teenagers is weird en sy vra lankal nie meer vrae nie.

Niemand vra meer vrae nie. Niemand vra hoekom jy op straat is nie.

“Hoekom het jy weggeloop?”

“Oor my pa se believes.”

Skaduwees en donker hoeke waarin sy moet wegkruip. Hidjab – kopdoek en serp – bedek jouself Moslemvrou. Om watter rede?

“Waarom dra jy dan die kopdoek?”

“Ek weet nie. Maybe omdat dit deel is van my?”

Hy vryf weer oor die sagte gladde satyn.

“Dis unfair – die boys kan party na hulle by die moskee was, maar ons meisiekinders moet met ’n kopdoek staan en kos maak. Ek verstaan  nie my geloof nie, sien?”

Haar stem klink anders; sag, ’n snaar wat liggies vibreer, ’n eggo wat fyn deur die donker sny en iewers wegraak oor sandduine en bakkerbos.

Stokkies, papier, tou, blikkies, spiritus, vuurhoutjies.

Die kindergesiggies sit op die strand; knip, draai vas, plak.

“Wat gaan jy aanvang Charlie?” vra die antie vroeër die oggend.

“Ons gaan die sterre terugsit in die Hemel antie.”

“Daar skyn dan sterre,” sê sy verbaas.

“Wens-sterre, liggies soos pêrels.” Sy oë soek rond na niks.

“Wanneer, kind?”

“Oor twee weke antie. Almal moet kom. Sal dit nie great wees nie?”

Azra sit haar arm om sy lyf.

Dat ’n sestienjarige kind so ver kan dink is godgegewe, dink die antie terwyl sy die pot sop roer.

’n Duisend mense op die strand. Die plaaslike koerant is ’n goeie klikbek. Eenhonderd rand vir toegang tot die strand en ’n lantern in die hand.

Vrolike musiek sweef oor die skare.

Dans saam met donkermaan, stroop hom van sy  swartmanel tot dit kaal en grootoog oor die see se swart karos glinster.

“Die maan is rond, blink en so naby,” sê Azra, “ek kan amper aan hom raak.”

“Ek kan sy strale teen my voorkop voel.”

“Regtig?”

“Hoe laat is dit,” vra Charlie.

“Dis amper tyd.” Sy vat sy hand.

“Hier is ’n pen,” sê sy.

Wens – skryf dit neer, stuur jou boodskap, ’n duisend pêrels vir Sy kroon.

Laat weet vir Hom sy kindergesiggies is liggies wat die donker verlig.

Azra draai haar kopdoek en serp stywer om haar kop en nek.

“Jy kan jóú wens skryf, want onthou jy het gewen … toe, skryf.” Sy stamp hom liggies teen sy arm.

Laat die sterre weer blink en die blindes sien, Charlie.

“Teken jy ’n groot oog en ’n kroon. Sal jy?” vra Charlie.

“Charlie, jy …” sy kyk op na die donker hemelruim. Ver is die Suiderkruis.

“Ek begeer niks, ek wens net en ek vra,” fluister hy met toe-oë.

Dit is tyd. Een minuut voor twaalf. Almal tel die sekondes af.

Azra neem die vuurhoutjies en steek die lantern se vlam aan. Charlie hou dit vas. ’n Duisend lanterns skiet een vir een die lug in. ’n Massa lig wat flikker in goud en wit.

“Laat los, Charlie,” fluister Azra en hou aan haar serp vas.

“Daar gaan hy!” skree Charlie opgewonde en kyk op.

Al die sterre is swartkolk – geblus in die donker – hul helder skyn ingeplof. Woensdag se volmaan dra ’n swartmanel van salpeter, houtskool en swael. Die hemelruim is swartryp windverwaai.

Hoe donker is die nag wanneer net hý met oopoë na alles staar, maar net die blindheid van die donker kan sien.

Blind is donker. Blink stertjie, glinster viooltjies, goue pêrels wat in sy gedagtes ronddans soos onblusbare vlamme.

“Azra? Azra, waar is jy?” Hy tas rond in die donker. ’n Vinger glip saggies oor sy neus. Dit is hulle geheime teken dat dit sý is.

“Hier, jammer, die mense druk my rond.”

“Ek sal jou vashou,” sê hy en sit sy arm om haar lyf.

Toe gaan sy oë oop na vier blinde jare. Wonderwerk.

Eers die dofheid; lig wat in kolle swem, swart word grys, dan helder bont soos die reënboogdruppels in ’n Bo-Kaap se blomtuin. Carisbrook straat.

Daar ver ’n duisend lanterns, helder blink sterre, die blinkoog volmaan. Azra langs hom – ’n rein, suiwer, kosbare pêrel.

“Charlie?” vra sy verbaas.

Toe kom die dwarrelwind en waai die lanterns verder weg oor die see tot na aan die hemelkoepel. Nóg Verder en verder weg met ’n duisend wense.

Almal kyk op na waar Hy is.

Hy kyk neer en sien die lig met ’n duisend wense en Hy sien ’n skare van ’n duisend siele.

Laat daar lig wees. En daar was lig.

Twee blindes kan weer sien.

En die dwarrelwind draai en pluk aan moue, krae, broekspype en ’n kopdoek. Weg, oor die see, uit die oog.

“Azra, hoekom huil jy? Ek sal vir jou ’n ander kopdoek kry, promise en …”

“Nee,” sy kyk op na die duisend lanterns, ”ek het Hom belowe as jy weer kan sien …” Sy hoef niks verder te sê nie.

Soms langs die strand of op ’n straathoek, miskien op die plein of by die hekke van die begraafplaas staan Charlie en verkondig die wonderwerk van ’n lantern.

“Moenie blind wees nie. Jy is sy pêrel en Hy wil jou hê vir Sy kroon,” sal jy hom hoor sê. Dan glimlag die mense en die kindergesiggies soos sterre se liggies.

Azra is ’n suiwer, rein pêrel wat elke dag wag vir Charlie om te kom eet. In haar oë skyn ’n duisend lanterns met wense wat Hy sal vervul. Sy kook vir die mense en die kindergesiggies by die sopkombuis – sonder ’n kopdoek, want daar is nie meer skaduwees of donker hoeke waarin sy moet wegkruip nie.

©Nico Schamrel

WINTERNAG – kortverhaal soos voorgelees deur Ria Fourie (Elan Radio)

Pa voel nie te wel nie. Die winterkoue sluip rond; ’n ongedierte sonder genade, verstrengel jou met ysige kloue, ’n vriesende asem wat in jou nek blaas. Selfs deur die blink houtvloer syfer die koue deur – bring saam die reuk van vloerpolitoer, stinkhout en klam grond.

Die groot los mat is vaal, skif getrap plek-plek; ligpienk rose en mosgroen krulle en blare. My oë volg die patroon; daar maak dit ’n krul, kyk hoe mooi is die rose geweef, die blare het liggroen randte. Pa luister na die nuus oor die draadloos. Dit is grootmens goed – koue front, reën, dalk verspoelings, sneeu op die Drakensberge en die Oos-Kaap, kapok in die Vrystaat. Ons sit op die mat en wag voor die paraffien verhitter. Pa se oogappel stoot sy dinky toy oor die lowergroen blare – plaaspaaie, ’n grondpad na iewers, afdraaipad na nêrens. Sy sagte neurie is skaars hoorbaar.

My huiswerk het ek klaar geleer – Winternag. Môre moet ek dit opsê voor die klas. Ek is droomverlore tussen pienk rose.

Pa vroetel met die draadloos, druk die lugdraad agtertoe, draai aan die knop.

Ma bring warm koffie en boerebeskuit, verdwyn weer agter die toe deur na die kombuis. ’n Warm stoof se asem met geure van groentesop en kruie.

“Dis storietyd,” sê pa en trek die kombers stywer om sy lyf.

Hooflig af. Net ’n lampie langs die bed wat flou brand. Die bekende kenwysie word harder met ’n draai van ’n knoppie, bons teen die kamermuur, dans om die lampskerm saam met ’n mot.

Ek verdwaal weg – verder die donkerte in na my verbeeldings-teater, deur die persulium van ’n kaal verhoog tot op die speelvlak waar die karakters en milieu al duideliker word en ek vasgevang agter ’n silwerdoek staan, die rolprent binne my gedagtes.

Ek hoor ’n windjie wat waai – O’ koud is die windjie en skraal …

 

“Ons trek die waens hier. Julle moet die beeste kraal toe jaag,” sê die oom.

“Ek sit solank ’n kannetjie koffie op die vuur,” sê ’n tante.

“Waar is Jamie?” vra die oom vir sy dogter. Ek hoor die beeste op die agtergrond, ’n sweepslag, iemand fluit.

“Hy’s na die kraal toe Vader – om na Frikkie om te sien,” en die dogter gee ’n kuggie. Swak hartjie.

“Jy is die oudste en jy moet mooi kyk na jou boetie, gehoor?” Dan roep die oom na Jamie. Die windjie waai al harder. O’ treurig die wysie op die ooswind se maat.

Die tannie bring koffie – die bekers klingeling, ’n lepeltjie wat roer, kap-kap. Die oom slurp en sê dankie.

“Die lug lyk donker aan die oorkant. Ek vertrou nie die wolke wat so swart aanpak nie,” sê die oom terloops.

Geel waaigras wieg heen en weer – die grassaad aan roere soos winkende hande. Goud is die vlakte, roesbruin die koppies wat blink in die laatmiddagson.

Net vroeër die dag was sy en Jamie op teen die rand, tot vêr gekyk – verder as ver, waar die plat berge soos miershope lyk. Daar onder is juis ’n miershoop so groot as ’n mens. ’n Aardvark se gat tussen klippe van klei en sand.

“Waar gaan die son vanaand slaap?” vra Jamie en tuur oor die landskap.

“Dáár,” wys sy met haar vinger, “net daar agter die hoogste koppie. Sien jy?”

Ek sien. So wyd as die Heer se genade, lê die velde in sterlig en skade. Ek was nog nooit daar nie, maar hier binne my wás ek. Ek voel haar hand myne vashou. Ek het my volkspele klere aan – groen serp om my nek, wit hemp, kakiebroek, geel onderbaadjie en die veldskoene wat oupa vir my gemaak het.

Die draadloos roep my nader, dieper binne-in sy mistieke.

Ek is Jamie.

Oor die draadloos kom die klanke, warm stemme wat my verbeeldingswêreld aangryp. Ek is daar.

“Kom, dit raak koud. Kry vir Jamie en dan kom julle binne. Ek maak vir ons ’n vuur,” sê ma en dra die bekers klingeling weg. Sy’t die boerebeskuit vergeet, dink ek.

Ek kruis my bene, my oë toe. In die donker kom die klanke oor die draadloos – ’n vuur wat kletter, die beeswagter wat nog hout op die vuur pak en mompel oor kapokwolke. Pa sê dit gaan sneeu en as dit vanaand gebeur gaan ons bitterlik koud kry. Hy hoop net die beeste sal dit oorleef.

Frikkie, my kalfie …

“Wanneer dit sneeu is die wêreld spierwit. Wanneer jy daarin beland moet jy kophou of jy raak weg. Glo my, die sneeu sluk jou in en jy verdwaal dat jy nie weet waar oos of wes is nie.”

Pa hoes. Die draadloos kraak.

Toe raak die kamer swart. Net die vuur wat dans saam met die treurige ritme van die wind in môre se gedig. Gitswart wolke wat teen mekaar druk en skuur. Ek loer bang en versigtig deur die venster. Ek hoor die kalfie roep; eensaam, koud – dalk verkluim?

“Kom weg by die venster,” se pa, maak sy oë toe en vou sy hande. Ma en sussie ook. Gebed; ’n vraag vir genade van Bo, leiding in die wit storm, dankwoorde, vergifnis. Hulle bid nie vir die kalf nie. Gaan pa sy kalf offer soos in die Bybel vir genade en vergifnis?

Musiek. ’n Treurige deuntjie wat viool-sag om my ore draai. Die draadloos se klanke streel en sweef onderdeur die toe deur van die slaapkamerdeur. Ma roer die pot sop.

“Amen …” sê die oom, “waar is Jamie?”

Die tante skarrel na die deur. Die beeswagter kom help om die deur toe te druk. Die ysige wind waai stormsterkte, suis hard, ruk. Ek hoor die deur toeklap. ’n Venster klap-klap in ’n ander kamer. Voor iemand by die venster kan kom, spring sy na buite.

‘Jy is die oudste en jy moet mooi kyk na jou boetie’.

Racheltjie. Ons vind mekaar iewers. Die koue is klam  – ’n verdoemende ysigheid wat waaigras in ’n ysveld verander.

Sy abba hom op haar rug. Hy voel die bietjie hitte van haar skraal rug teen sy bors. Haar kappie waai agtertoe. Hy druk sy koue lippe teen haar lang hare vas.

Hulle roep na haar oor die draadloos. Die oom, die tante, die beeswagter. Die wind kwyn stadig weg asof iemand die volume afdraai.

In elk’ grashalm se vou blink ‘n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou.

Ek kry skielik kouer en trek my bene op en rus my ken op my knieë. Die mot sirkel steeds om die lampskerm. My pa lê met sy oë toe, kortasem. Daar is koue doudruppels op sy voorkop.

My broertjie lê in ’n bondeltjie onder ’n wolkombers op die mat en slaap. Ek kyk na die draadloos en maak my oë weer toe. Dan bid ek vir Jamie en sy sussie. Ek bid vir my pa en my ma. Ek bid vir my broertjie, toegedraai in ’n bont kombers.

Die mot draai nader aan die lamp se lig.

Die einde is so hartseer. ’n Brawe sussie – besorg, beskermend, omgee kind. Binne die miershoop lê broertjie toegedraai, snoesig warm. Sy is net ’n naakte bondeltjie, verkluim en asemloos.

Die aardvark lê in sy gat en slaap.

Ek huil. My pa vra waarom. Ek weet nie.

Pa sit die draadloos af. Môre is nog ’n dag.

Vroeg die oggend, voor skool, neem hulle hom weg op ’n draagbaar. Ek huil nie.

“Onthou jy nog die woorde van die gedig?” vra hy vir oulaas.

“Ja,” sê ek. Hoe kan ek dit ooit vergeet?

“Jy moet dit mooi opsê,” en hy gee my hand ’n laaste drukkie.

Weg.

 

O’ treurig die wysie op die ooswind se maat, soos die lied van ‘n (ek) in (sy) liefde verlaat.

Ek huil.

Juffrou vra waarom.

Ek weet nie.

©Nico Schamrel