Nico Schamrel

Gebore en getoë op Uitenhage. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth en na vele omwentelings in sy lewe, keer hy terug na sy geboortedorp. Van sy kortverhale verskyn in verskeie keurbundels. Nico ontvang ook ’n benoeming van Croyez Literêre Toekennings vir sy kortverhaal By Mooirivier se brug wat in sy kortverhaalbundel – Engela – opgeneem is. In 2020 ontvang hy die Chris Barnard Prys benoeming vir sy verhaal, Kaggen, wat opgeneem is in sy tweede kortverhaalbundel – Prentjies in my kop.

Hy beywer hom ter bevordering van die Afrikaanse verhaalkuns as stigterslid van PENdit.za en is ’n kampvegter vir die behoud van Afrikaans.

NS KREATIEWE ONTWERP is ook sy baba. Nico ontwerp boekomslae vir skrywers, asook materiaal vir bemarking.

NS LIEFDESDIENS / NS ACT OF LOVE was established by Nico in 2020 to raise funds for charity. His first project – MY PRAYER FOR A FARMER / MY GEBED VIR ‘N BOER – has been launched. Read more about this initiative – http://nicoschamrel.com/ns-liefdadigheid-charity

Hy is tans besig om die biografie van die sendeling, Magdalena de Kock, te verwerk in ‘n historiese boek – met verwysings na sendingwerk gedurende die tydperk 1919 tot 1934, die geskiedkundiges Ds. Willie Murray, Ds. Louis Murray en Dr. Robert Laws.

Omdat hy homself bevind in die gasvryheidsbedryf, het hy ook ‘n behoefte gesien aan ‘n Handleiding vir die Gastebedryf. Hierdie handleiding is die enigste in sy soort en is reeds gekrediteer deur ‘n opleidingskollege in Kaapstad.

God gee jou talente as geskenk en daarmee moet jy woeker. Afrikaans is ’n wonderlike godgegewe taal. Ek skryf vir die liefde daarvan en om my moedertaal aan die lewe te hou. Vir my mede Afrikaners wil ek ‘n nalatenskap los van skeppende Afrikaans – al is ek net ‘n doodgewone mens sonder bekendheid. Deur my skrywes wil ek mense, oud en jonk, aanspoor om die mooi in die lewe raak te sien, om goed te doen vir ander en met dankbaarheid die adel te ontvang van jou arbeid.” – Nico Schamrel.

WELKOM

Dankie vir jou besoek aan hierdie webwerf. As ‘n begin skrywer, het ek besluit om ‘n webwerf te skep om my skrywes self te publiseer, te adverteer en blootstelling te gee – nie net aan myself nie, maar ook aan ander skrywers.

My liefde vir Afrikaans kom van my voorvaders. Iewers in die bloedlyn kruip daar glo gene rond van CJ Langenhoven (dit is volgens familie-praatjies – of dit so is, weet ek nie, maar ek volstaan daarby!). My pa kon nogal ‘n paar romantiese woorde skryf toe hy verlief was en ek is seker hy sou mooi verhale kon skryf as hy die geleentheid gehad het. Hy is oorlede toe ek 12 jaar oud was.

Goeie invloed: Ouma Mimi Botha se familie was ‘n vrolike klomp mense – vol stories en grappe. My ouma se broer, oom Jan en tannie Lenie Botha het op ‘n plaas gewoon – Sandkraal, buite George. Die herinneringe van plaaslewe en vakansietye het bygedra tot sommige van my skrywes. Onder hulle was ook die bekende M.C. Botha. Oom Hendrik Botha het al sy lewe in die parlement gewerk. Hy was ook konsulaat in Rio en later in Brazilië. As ‘n groot rugby ondersteuner, het hy ‘n span spelers bymekaar gemaak in Brazilië en hulle afgerig. So kon hy sy liefde vir die sport weer beoefen in ‘n vreemde land, tussen werk en die politiek. Tant Annie het eenkeer geskryf oor hoe duur die kos is en hoeveel blikkieskos op die rakke is. Sy het onder andere ook bosse Proteas ingevlieg vir ‘n onthaal by die konsulaat. Sy skryf dat dit was so ‘n begeesterde oomblik toe sy weer Proteas sien en het tog te lekker gehuil uit pure verlange na Suid Afrika. Oom Adam Botha was ‘n regte plaatjie. By menigte politieke vergaderings van die Nasionale Party op George, het hy die destydse president, PW Botha aangevat – so erg, dat PW Botha eenkeer vir hom gesê het: “Adam Botha, sit op jou stoel en bly stil!” Oom Adam het ‘n regop klavier gewen in ‘n kompetisie in Huisgenoot vir 50c. Hy kon nie ‘n noot speel nie, maar kon hy ons vermaak! Hy het voor die klavier ingeskuif en die note geslaan en dan skree hy: “Dit is die klonkies wat koring op die lande sny!” Ant’ Carolina Botha was uitgesproke en het nie nonsies gevat van enige iemand nie. Ons het saam met haar by die parlement gaan eet – tussen al die ministers – ons met ons kerkpakke en strikdasse en sy en my ma was gehoed en gehandskoen. Die strikdasse was oorgroot, want dit was haar oorlede man s’n. My ma moes een van Ant’ Carolina se hoede dra, want ons was met vakansie in die Kaap. Ons was eenkeer naby die hek na Groote Schuur (president se woning) geparkeer. Toe ons motortjie vassit in die los sand, roep sy die presidents se wagte om te kom help stoot. “Kom boeties, moet net daar staan nie. Twee tantes en twee kindertjies kan nie ‘n mouster uit die sand stoot nie!” Eendag het sy by die parlement opgedaag (weer met hoed en handskoene soos betaam) en aangedring om haar broer, oom Hendrik Botha, te sien. Sy was baie onwaardig dat sy voor ‘n kamera moes staan om uitgeken te word deur haar broer voor hy die kantoordeur kon oopmaak. Sy het na die kamera gestaar met ‘n breë  glimlag en skielik laat hoor: “Toe, maak oop die deur, Hendrik … wat neem so lank? Het jy vergeet hoe ek lyk?” Sy het eenkeer vir my ‘n goue telegram gestuur om my geluk te wens met my verjaardag. Dit was die mooiste telegram; goue papier met ‘n protea motief en pragtige sierskrif. Ongelukkig het dit verdwyn uit my skatkis vol herinneringe. Tannie Miriam Botha was vir baie jare betrokke by die ACVV. Sy was verantwoordelik vir die bou van die ouetehuis op Despatch. Met elke verjaardag, myne of my broer, het ons elkeen 50c gekry en later  R1,00. Ek het so ryk gevoel, want sakgeld was daar nie.

Alhoewel ons in die era van Apartheid groot geword het, was ons geensins ontbloot aan rassisme nie. My Pa (Jacobus Nicolaas Schamrel), was bekend onder die swartmense. Hy was ‘n blokman en het mildelik voorsien aan sy swart kliënte. Baie het hom kom besoek voor sy dood. Ons is geleer om almal, maak nie saak wie nie, met resep te behandel.

My ma, Engela Dorothea Els (nooiensvan) is 85 jaar oud. Sy is my rots en die een wat aan my boeke gegee het om te lees. Haar eie vertellings oor haar kinderjare is steeds vir my ‘n besonderse verhaal.

WEB OUMA

My geboorte was iets vreesliks! Ek was heel te vrede om te bly waar ek was, maar dokter het vir moeder aangeraai om kasterolie te drink, voor ek vir ewig neskop. Ek was dus ‘n instrumentbaba en weeg net oor die nege pond. Ek was so vet dat hulle my dadelik Churchill genoem het. Die eerste foto van my lyk iets verskrikliks – en hulle plaas dit nogal in die koerant! Ek was skrikwekkend lelik, maar gelukkig het die lelike eendjie darem later bietjie beter begin lyk.

My kinderjare in my tuisdorp, Uitenhage, was sorgloos, soms opwindend – vol kinderlike herinneringe van besonderse oomblikke en ervarings. Hoe dan anders as om ‘n invloed te hê op verhale en gebeure? Kinderkrans en Sondagskool was die fondament van my opvoeding. Ek was ‘n swak leerling omdat ek lui was en eerder gedroom het as om huiswerk te doen. Ek wou aanvanklik ‘n predikant word, ‘n beroemde akteur, ‘n orrelis, ‘n kunstenaar en later ‘n Afrikaanse onderwyser. Waar my destydse strewe na roem vandaan kom, weet ek nie, maar ek reken dit het te doen gehad met die feit dat ek ‘n baie skaam en teruggetrokke kind was, ‘n minderwaardigheidskompleks gehad het en sensitief was. Die kunssinnigheid in my het my ook baie kwesbaar gemaak. My oupa John Matthew Els was baie kunstig en kon besonders mooi teken – van hom erf ek my kuns-gene. Kuiers by Ouma Mary Schamrel het ook ‘n groot invloed op sommige van my skrywes. Die lieflike skoon reuk van haar huis gemeng met die reuk van ‘n koolstoof, varsgebakte brood en swart botter (ek het Marmite swart botter genoem). Ek word steeds deur my ma herinner aan my woorde wat ek kleintyd kwyt geraak het (en ek onthou dit goed): “Eendag sal mamma nog my naam in ligte sien.”

WEB Nico

Engela Dorothea (Dottie) Els – my wonderlike moedertjie vir wie ek ontsaglik lief is. Haar onbaatsugtige liefde is nimmereindigend. Sy het hard gewerk om die pot aan die kook te hou, maar daar was altyd tyd om vir my iets nuuts te leer. Sonder dat sy dit ooit besef het, het sy vir my mooi en kosbare woorde geleer, dieper na dinge laat kyk en my oë oopgemaak om alles wat mooi en kosbaar is, altyd raak te sien. Gedeeltes van haar lewe word saamgevat in twee kortverhale in, Engela, wat ook my debuutbundel is.

My verhaal, Bruidsbos (opgeneem in Engela), is sterk beïnvloed deur die pragtige Hogsback in die Oos-Kaap. Ek het vir ‘n geruime tyd hier gewoon vanaf 1999 – 2001. Die skoonheid van die natuur het my diep geraak en was ‘n fantasie waarin ek kon wegkruip. Verhale, soos Op Verlatendal se stasie (opgeneem in Engela), was beïnvloed deur treinreise as kind en later as ‘n jongman. Wat hierdie verhaal die meeste beïnvloed het, was die Desember 1971 vakansie by my ma se niggie (ook Engela) op ‘n klein spoorwegstasie, Solitaire. Daar was net vier spoorweghuise en ‘n paar kleihutte. Ek en my broer, Wernich, het ons self vermaak met die werkers se kinders in die veld en saans om ‘n olielamp gekuier. Ons het ook gereeld per trein gereis tussen Uitenhage en Port Elizabeth – see, strand, inkopies en kuier. My boek – Steppie lyk soos heuningwashet onstaan uit ware gebeure van twee verskillende vroue. Ek het die res van die karakters ontwikkel uit mense wat ek ken en gereeld op straat waargeneem het. Die boek het lank geneem om te voltooi en ek verlang steeds na Steppie, Gerty, Jakes en die spesiale kind, Tos. Hulle is vir my so werklik.

web steppie

Ek het gevoel dat ek graag iets vir my medemens wil doen. Om die rede het NS Liefdesdiens / Act of love, ontstaan. Die projek het agt maande geneem om af te handel, maar dit was elke druppel sweet die moeite werd. Die boek behoort teen einde Januarie 2021 beskikbaar te wees. Alle inkomste uit hierdie boek word aan liefdadigheid geskenk – veral ten opsigte van slagoffers van plaasaanvalle.

Nogmaals welkom en ek hoop jy geniet elke storie, vertelling en publikasie wat ek met liefde op hierdie blad plaas. Dankie dat jy bereid is om Afrikaans saam met my te geniet en deur jou ondersteuning, ondersteun jy ons kosbare taal.